Vry van ander se opinies

opinion1708

opinion1708Terwyl ons ander se opinies moet respekteer, mag ons nooit daardeur beheer word nie. Dit sou jou beroof van jou individualiteit en kreatiwiteit, sodat jy nie jou volle potensiaal kan bereik nie. Mense wat onseker in hulself is, sal jou altyd kritiseer, veral as jou keuses van hulle s’n verskil. Hulle voel ongemaklik met enigiets wat van hul manier van doen verskil. Daarenteen kan mense wat seker van hulself is, dit hanteer om op hul eie ‘n bepaalde koers in te slaan. Hulle gun ander die vryheid om hul eie ding te doen en hul eie keuses te maak. Dit is omdat hulle seker oor wie God hulle geroep het om te wees.

“Hy het dit prysgegee” (Fil 2:7). Jesus het nie omgegee wat ander van Hom dink nie. Sy enigste doel was om die wil van die Vader te doen – niks meer nie en niks minder nie. Om dit te kon doen, moes Hy vry wees van die opinies van ander. Die grootste tragedie denkbaar is om oud te word en te besef dat jy jouself iewers langs die pad verloor het en nooit God se plan met jou lewe verwerklik het nie. Dit is ongelukkig ‘n wesenlike moontlikheid as jy sou toelaat dat ander se opinies jou lewe reël. Paulus sê: “Dis vir my werklik nie belangrik hoe julle …my beoordeel nie. Ek vertrou selfs nie eers my eie oordeel in hierdie opsig nie! Die Here se oordeel oor my is al wat saakmaak.” (1 Kor 4:3-5 NLV)

Vra God vandag nog om jou vry te maak van ander se opinies.

Kopiereg 2009 Radiokansel

Scroll to Top