
Dis erg genoeg om te sterf vir sondes wat jy nie gedoen het nie, maar stel jou voor hoe dit moet wees om deur God verlaat te word! Jesus het Sy Vader aan die kruis nodig gehad, maar Hy was nie daar nie. Beteken dit dat die Psalmskrywer verkeerd was toe hy geskryf het: “…nooit het ek ‘n regverdige verlate gesien…” (Psalms 37:25 NV)? Nee, want op daardie oomblik was Jesus alles behalwe regverdig.
As jy Hom daar sien hang, sien jy die skindertong, die leuenaar, die bedrieër, die alkoholis, die pornografieverslaafde, die kindermisbruiker, die moordenaar. Pla dit jou om Sy Naam gekoppel aan hulle s’n te sien? Jesus het selfs meer gedoen. Hy het Homself in hulle plek – en joune – geplaas. In ‘n gebeurtenis wat God se hart gebreek het en ons die geskenk van die ewige lewe gegee het, het Hy Sy regverdige oordeel op Sy enigste Seun laat afkom. Toe Jesus van die kruis af geskree het, “My God, My God, waarom het U My verlaat?”, het Hy dit gedoen sodat ons nooit sal nodig hê om dit te doen nie.
Wat ‘n ongelooflike liefde.
Bron : Radiokansel


