Om God se genade te ervaar

2013-06-30 212944

2013-06-30 212944Heelwat van Paulus se sendbriewe begin met die woorde “genade vir julle en vrede van God”. Die rede hiervoor is dat jy nie God se vrede kan beleef totdat jy weet hoe om Sy genade te ontvang nie.

Jy moet drie dinge omtrent genade verstaan:

a) Jy kan dit nie verdien nie.

b) Dit behels dat God vir jou doen wat jy nie vir jouself kan doen nie.

c) Dit tree nie in werking totdat jy ophou worstel en probeer om alles in jou eie krag te doen nie.

Die Bybel sê: “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” (Jak 4:6 NV). “Nederiges” is diegene wat hulle algehele onvermoë erken om sonder God se hulp sukses te behaal, maar die “hoogmoediges” is altyd besig om te probeer om die lof na hulle kant toe te swaai. Hulle dink graag dat dinge gedoen kom te danke aan hulle vermoëns, en daarom is dit vir hulle moeilik om God vir genade te vra, en nog moeiliker om Sy genade te ontvang. Jy kan slegs leer om God te vertrou deur dit te doen! Jy neem in genade toe deur God op Sy Woord te neem, en elke dag staat te maak op Sy genadige voorsiening en ingryping in situasies wat vir jou moeilik of onmoontlik is. Daar sal nooit ‘n dag kom wat jy nie God se genade nodig het nie.

As jy bereid is om te erken dat jy dit nodig het en dit in geloof ontvang, sal daar geen tekort daaraan wees nie. “Uit Sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.” (Joh. 1:16 NV).

Bron : Radiokansel

Scroll to Top