Vitamines vir geestelike gesondheid

steamship0407

steamship0407Moet nooit vergeet, jy’s nog nie tuis nie. Daar word ‘n storie vertel van ‘n stoomskip wat in die hawe van Southampton vasmeer en die passasiers stap aan wal. Heliumballonne rys in die lug op en die skare raak jubelend oor ‘n jong Hollywood-aktrise wat met die loopplank afstap waar haar familie en vriende haar opgewonde inwag. Die laaste persoon wat die skip verlaat, is ‘n ouerige man wat meer as vyftig jaar van sy lewe as sendeling in Indië deurgebring het. Al sy aardse besittings was in ‘n gehawende tassie wat hy met hom saamdra.

Toe hy by sy kamer in ‘n goedkoop losieshuis kom, kniel hy langs die bed en bid: ‘Here, ek het U my lewe lank gedien. Ek het alles opgeoffer om aan ander die goeie nuus van die evangelie te vertel en baie vir U gewen. Tog was daar niemand om my aankoms te vier en my tuis te verwelkom nie.’ Terwyl hy daar gekniel het, kom God se stem saggies tot hom wat sê: ‘My seun, jy’s nog nie tuis nie!’

En verloste kind van God, netso is jy ook nie! As God jou met ‘n mooi huis geseën het, bedank Hom en geniet dit. Maar moenie te gemaklik raak nie. Dit is ten beste slegs tydelike verblyf. Paulus het dikwels aan die hemel gedink: ‘Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe’ (Filippense 1:23-24 NV). God het iets ‘verreweg beter’ vir jou in gedagte. ‘n Groot prediker het eens gesê: ‘Ons belangrikste besigheid in hierdie wêreld, is om ‘n belang in die volgende een te kry.’

Bron : Radiokansel

Scroll to Top