RKLogo_Reg

RKLogo_RegAs jou hart rein is, sal jy God sien wanneer ander blind is, Hom hoor wanneer ander doof is en op ‘n manier met Hom kommunikeer wat ander graag sal wil nadoen. Die woord rein kan ook vertaal word met “sonder enige besmetting.” Dit beteken dat jy alle vleeslike gedagtes moet laat vaar en elke dag jou eie belange moet kruisig.

Die verskil tussen vergifnis en reiniging is soos die verskil tussen onkruid afsny en om dit met wortel en al uit te trek. Vergifnis het betrekking op die resultaat van sonde en dit is maklik om dit te identifiseer. Reiniging het te doen met die oorsaak van sonde en dit is nie so maklik nie, omdat dit te doen het met jou natuurlike eienskappe en karakterfoute. Vergifnis kom deur die belydenis van sonde, terwyl reiniging kom deur te wandel in die lig: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde,” (1 Joh. 1:7). Vra jy oor en oor vir God om dieselfde sondes te vergewe? Dit is omdat jy die ervaring van ware reiniging nodig het. Die oorsaak van sonde moet aangespreek word!

Die Bybel sê dat ons harte besny moet word (sien Rom. 2:29). As ons dit Geestelik verstaan, beteken dit dat ons alles moet afsny wat die neiging het om meer vleeslikheid te produseer. Verstaan jy die idee? Sekere goed is op sig self nie verkeerd nie, maar as hulle God se tyd en plek in jou lewe inneem, moet hulle waai! God het aan sy volk gesê: “En die HERE jou God sal jou hart besny … om die HERE jou God lief te hê,” (Deut. 30:6) Wil jy graag vir God sien, hoor en nog duideliker met Hom kommunikeer? Verwyder dan alles in jou lewe wat jou besmet!

© Kopiereg Radiokansel 2007 (www.radiokansel.co.za)

Scroll to Top