ImageHoe swaar is ‘n glas water? Dit hang af hoe lank jy dit moet ronddra. ‘n Minuut is geen probleem nie, en na ‘n uur gaan jou arm dalk begin pyn. Maar na 24 uur gaan jy waarskynlik nie meer lus wees vir die speletjie nie! In elke voorbeeld weeg die water presies dieselfde, maar hoe langer jy dit dra, hoe swaarder voel dit. ‘n Wrok werk presies dieselfde – dit kan so swaar word, dat dit jou kan weerhou daarvan om te lewe.

Mense gaan jou seermaak, dit is die harde werklikheid van die planeet met ander mense deel. Soms is dit met opset, soms is hulle totaal en al onbewus daarvan dat hulle jou ontstel het, óf jou hart gebreek het! Beteken dit dat jy moet maak asof niks verkeerd is nie? Nee, die eerste stap wat jy moet neem, is om jou seer te konfronteer. Hoe dieper daardie seer lê, hoe moeiliker gaan dit wees om te vergewe. Dit is wanneer jy moet begin bid. Die Bybel sê: “Bid vir die wat julle beledig,” (Luk. 6:28, OAV). Wanneer jy dit doen, sal daar iets onverwags gebeur – jou hart sal versag en jy sal begin om deur God se oë te kyk in plaas van deur jou eie, rou emosies. Jesus het gesê: “En wanneer julle iets teen iemand (het), vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook vergewe,” (Mark. 11:25, NAV). Wanneer jy onvergewensgesindheid saai, sal jy onvergewensgesindheid maai – ook van God af!

Isak ‘n ‘n pragvoorbeeld van vergifnis. Tydens ‘n droogte het hy putte gegrawe wat sy vyande bloot oorgeneem het. In plaas daarvan om wraak te neem, het hy verder getrek en nuwe putte gegrawe. Die gevolg was dat God Isak se leë putte opgevul het en belowe het dat Hy hom en sy kinders sal seën! (Sien Genesis 26:22-23.) Wanneer jy diegene wat jou seergemaak het vergewe, sal Hy ook die leemte in jou lewe opvul.

© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)

Scroll to Top