
Jesus het gesê: “Wie julle ontvang, ontvang My…” (Matt 10:40 NV). As ‘n volgeling van Christus, is dit jou taak om nuwe mense tuis te laat voel – as deel van ons bloedfamilie in die Here (Gal 6:10 DB). Gevestigde vriendskappe binne kerke word maklik godsdienstige klieks waar ons glimlag en met nuwelinge praat, maar al ons tyd deurbring saam met ‘n uitgesoekte groep mense wat ons reeds ken. Die meeste van ons is tevrede met ons bestaande vriendekring; ons moet maniere soek om ander mense in te sluit.
Mense kom kerk toe met die hoop dat hulle liefde en aanvaarding sal ontvang, en as dit nie binne ‘n maand of twee gebeur nie, beweeg hulle aan. Hou jou geestelike antennas gerig op mense wat ongemaklik en ontuis lyk. Die meeste mense het ten minste al een negatiewe ervaring in die kerk gehad, so hulle het ‘n bietjie ekstra liefde nodig. Die Bybel sê: “Dra mekaar se laste…” (Gal 6:2 NV).
Opregte warmte en omgee lok mense. Eerste indrukke tel. Die kerk moet ‘n plek wees waar ons liefde duidelik is vir mense wat seerkry van die oomblik dat hulle in die deur verskyn. En onthou, God gebruik nie net hierdie verhoudings om te voldoen aan die behoeftes van diegene wat uit moeilike situasies kom nie – Hy gebruik dit ook om ons volwasse te laat word.
Bron : Radiokansel


