Tevredenheid is nie ‘n bestemming nie, maar ‘n reis. Jy moet elke dag daaraan oefen. Paulus het gesê: “Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.” (Filippense 4:11 NV). Paulus het geleer om nie toe te laat dat die dinge wat hy wel gehad het, oorskadu is deur dit wat hy nie gehad het nie. Hoe vind jy tevredenheid? Deur die volgende drie dinge te doen:
1) Soek daarna. Maak dit ‘n daaglikse keuse. Kom tot die besef dat meer materiële dinge jou nie gelukkiger gaan maak nie. Partykeer vereis tevredenheid dat jy jou lewe vereenvoudig. Benjamin Franklin het gesê: “Tevredenheid maak ‘n arm man ryk, en ontevredenheid maak ‘n ryk man arm.”
2) Sê dit. Kweek die vermoë om te sê: “Ek het genoeg.” Staan met jou onverwagte bonus in jou hand terwyl jy oorweeg wat om te koop en sê: “Ek het genoeg, Here. Hoe kan ek dit vir U gebruik?”
3) Aanvaar dit. “As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie.” (Psalms 62:11 NV). As al die sandkorrels op al die strande in die wêreld die ewigheid voorstel, stel een korreltjie sand jou leeftyd voor. Dink so daaraan: Terwyl jy hier swoeg om alles wat jy kan uit jou een korreltjie dae en nagte uit te kry, ignoreer jy al die strande van die ewigheid wat God vir jou beplan het. Dis nie so slim nie, is dit? Om tevrede te wees, moet jy gefokus bly op die ewigheid, en jou leefstyl op die Bybel baseer!
Bron : Radiokansel


