As jy jou op hierdie oomblik in diep water bevind, vind vertroosting in hierdie woorde: ‘U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ‘n eregas deur my kop te salf met olie en my beker vol te maak met seëninge. U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe…’ (vv. 5-6). Wanneer maak God jou beker vol met seëninge? Wanneer skenk Hy jou die krag om te oorwin? Wanneer demonstreer Hy Sy goedheid en trou?
In die teenwoordigheid van jou vyande! Die onsekerheid en teenkanting sal God nie daarvan weerhou om jou te seën nie. ‘Maar ek spartel en spook regtig,’ sê jy. Dis net die bewys dat jy nog nie oorwin is nie, dat jy verseg om oor te gee, dat oorwinning steeds moontlik is, en dat jy nog steeds groei. Solank as wat jy met God wandel en op Hom vertrou, sal Hy vir jou sorg. Hy stuur Sy Gees om jou te lei, Sy Woord om jou verstand te verhelder, en vriende om jou te ondersteun wanneer jy sukkel. Solank jy jou oopstel vir lering, is jy bereikbaar. Stel ook jou hart oop, bly luister na God, gehoorsaam Hom en jy sal vind dat die Here, ‘hulle…help wat met hulle hele hart op Hom vertrou…’ (2 Kronieke 16:9). Jy sal ook ontdek dat Sy krag juis in jou swakheid tot volle verwesenliking kom (2 Korintiërs 12:7-9). Uiteindelik sal jy God bedank vir jou vyande, want Hy sal jou daar voor hulle oë seën. Mense en omstandighede bepaal nie jou toekoms nie, God wel – vertrou dus slegs op Hom!
Bron : Radiokansel




