
Onlangs was dit weer so, katte wat kom kuier en skuur en luidkeels saampraat. My dag was soort van verby en ek was besig om my sokkies uit te trek en uit blote stoutigheid gooi ek een sokkie oor Snoekie se rug toe hy weer voor my verbyskuur.
Arme kat! Kom ek verduidelik vir jou so; waar Snoekie die een oomblik normaal geloop het, was dit nou asof hy 10 ton op sy rug gekry het. Hy sleep homself voort op die mat onder die “gewig” van hierdie sokkie. So het hy aanhou loop totdat die sokkie uiteindelik afgeval het. Dalk vir my baie snaaks, maar vir Snoekie beslis nie.
Is die kat se hantering hiervan nie dalk baie keer hoe ons ook die lewe benader nie. Ek praat nie van ‘n las nie, ek praat van interpretasie. In sy katverstand het hy besluit dis moeilikheid hier op sy rug. In my verstand het ek geweet hy’s verkeerd met sy interpretasie. “Stupid” kat…
Ongelukkig is ons gedagtes soms so verhard en vooropgestel dat ons nie veel beter vaar as ou Snoekie nie. Rom 12 verwys daarna; leer wat die Here se wil is vir jou deur jou gedagtes te vernuwe.
Dit beteken eenvoudig om Jesus die reg te gee in jou lewe.
Net dit, niks “fancy” goed nie, die res volg vanself.
Johann




