
Jy kan oorbegin, as jy volgens hierdie woorde lewe: ‘Vandag gaan ek twee dae uit my dagboek verwyder – gister en môre. Gister was vir leer; môre is die gevolge van wat ek vandag doen. Vandag gaan ek leef met die oortuiging dat dit nooit weer sal terugkeer nie, dat dit dalk die laaste geleentheid vir my sal wees om by te dra, want daar’s geen waarborg dat ek môre sal sien nie. Vandag gaan ek nie geleenthede laat verbygaan nie.
Vandag gaan ek my waardevolste hulpbron, my tyd, investeer in my belangrikste besitting: die lewe wat God aan my gegee het. Ek gaan elke minuut doelgerig spandeer, en sodoende van vandag ‘n unieke geleentheid maak. Ek gaan elke struikelblok aanpak met die wete dat ek met God se hulp sal oorwin.
Vandag gaan ek twyfel en pessimisme weerstaan, en my omgewing met ‘n glimlag verwarm. Ek gaan ‘n sterk geloof handhaaf, niks behalwe die beste verwag nie, tyd maak vir geluk, elke taak as ‘n geleentheid sien om God te eer, en poog om Sy voetspore te laat in die harte van almal wat ek ontmoet.’
John Boykin het geskryf: ‘Jou tyd is jou lewe – niks meer, niks minder nie. Hoe jy jou ure bestee, is hoe jy jou lewe spandeer.’ Bid dan: ‘Here, help my om hierdie dag ten volle te benut.’
Bron : Radiokansel

