
“Onverskillige woorde kos lewens”.
Wanneer jy iets negatief oor iemand anders hoor, vra jouself die volgende vier vrae af.
Eerstens, is dit waar? ‘Moenie valse verklarings oor ander aflê nie.’ (Eksodus 20:16). Dis een van die Tien Gebooie, nie die tien voorstelle nie! Moenie iets sê totdat jy seker is dat die storie waar is nie. Wag maar net, tyd sal altyd die waarheid aan die lig bring.
Tweedens, is dit vertroulik? Het jy dit te hore gekom omdat iemand anders hom of haar aan vertroueskending skuldig gemaak het? Sou jy dit oorvertel, sal jy bydra tot die vertroueskending? Onthou, ”n Geskinder lap geheime uit; betroubare mense bewaar geheime.’ (Spreuke 11:13). God kan jou nie gebruik as jy jou integriteit verloor deur jouself aan vertroueskending skuldig te maak nie.
Derdens, is dit nuttig? Gaan dit ander afbreek of opbou? Satan is versot op afbreek, ontmoedig en verslaan, moenie sy assistent wees nie. ‘Gebruik die regte, opbouende woorde wat nodig is om die wat luister, te bevoordeel.’ (Efesiërs 4:29).
Sal dit nuttig en opbouend wees vir diegene wat daarna luister?
Laastens, is dit nodig? Stop en vra jouself af, ‘Wat sal ander en die werk van Christus daarby baat as ek dit sê, of verloor as ek dit nie sê nie?’ Dis meer waarskynlik dat jy spyt sal wees oor die dinge wat jy wel gesê het, as oor die wat jy nie gesê het nie.
”n Dwaas bars uit. Iemand wat wys is, hou homself in toom.'(Spreuke 29:11).
Tree slim op, tel jou woorde.
Bron : Radiokansel (Inhoud aangepas)



