Jy is nader as wat jy dink!

wall2408

wall2408Wat keer jou om vandag by Jesus uit te kom? Jou teleurstelling in Christene? Skuldgevoelens oor jou verlede? Toe die vier mans wat die verlamde man gedra het by die huis aankom waar Jesus gepreek het, kon hulle nie deur die skare mense kom nie. Op daardie oomblik moes hulle besluit of hulle sou opgee, of deurdruk en ‘n manier na Jesus toe sou vind. Dit is toe dat hulle besluit het om “‘n gat in die dak bokant Jesus se kop” te maak. Toe hulle uiteindelik deur die dak breek, het Jesus gesê: “My seun, jou sondes word vergewe.” (Mark 2:5 NLV)

Ongeag watter soort “dak” tussen jou, jou geliefdes en Jesus staan, dit kan verwyder word! Breek dit af! Moenie toelaat dat enige struikelblok in jou pad staan nie. Jy kán ‘n goeie werk hê, ‘n nuwe begin, ‘n stewige huwelik, gesonde kinders en ‘n doeltreffende bediening as jy bereid is om daarvoor te werk!

Hierdie mans het radikaal opgetree. Hulle het geloof in aksie gehad. Hulle het gekom om Jesus te sien en ‘n droë modderdak sou nie in hul pad staan nie. Maak nie saak wat jy vandag moet doen nie, moenie toelaat dat enigiets jou keer om by Jesus uit te kom nie! Jy is nader aan ‘n deurbraak as wat jy besef, so begin grawe en moet nie stop tot jy daar uitkom nie!

Kopiereg 2009 Radiokansel

Scroll to Top