Wanneer teëspoed oor jou pad kom

Image“Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in Sy huis,” Psalm 27:5.
Wanneer daar moeilikheid op jou pad kom, doen die volgende drie goed: 
Maak tyd om alleen saam met God te wees! Die Psalmdigter skryf: “Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis.” In die Here se huis is jy veilig en kan jy skuil van die vyand. Rondom jou kan die wêreld maar vergaan, maar dit maak nie saak nie. Daar heers vrede in God se huis. Laat jou jou omstandighede toe om jou te beheer? Raak jy onsteld oor beuselagtighede? Sorg dat jy alleentyd saam met God kan deurbring!
Waak daarteen om nie vir hulp te vra, omdat jy ‘n beeld het wat jy moet voorhou nie. Die Bybel sê dat diegene wat sterk is die swakkes moet help om hulle laste te dra. Daar gaan tye wanneer ons gaan moet help om te dra en tye wanneer ons self gedra gaan moet word. Jesus het die vrou genees wat vir 18 jaar lank inmekaargetrek was en “sy het onmiddelik regop gestaan,” (Luk. 13:11). Soms het jy hulp nodig omdat jy nie jouself kan help nie. Dawid het dit verstaan en dus na die manne van Issaskar toe gegaan, want hulle het “ die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan,” (1Kron. 12:32) God bied vir ons hulp aan aanvaar dit!
Jy moet sensitief wees vir die stem van die Heilige Gees, want Hy sal jou voortdurend herinner aan God se plan en jou wys hoe om dit uit te voer. Jesus het gesê: “Die Heilige Gees … (sal) julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het,” (Joh. 14:26). Wat het die Here vir jou gesê? Het jy dit gedoen? Gehoorsaamheid is die pad waarmee jy uit die moeilikheid kan kom (sien Psalm 143:10)
© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top