Rugbyspeler kan weer loop ná gebed

rugby1505

BETHLEHEM. – Nadat hy ‘n ernstige rugbesering in ‘n rugbywedstryd opgedoen het, kon Ruan Joubert (18) nie sy bene voel of loop nie. Maar volgens hom is hy danksy die krag van gebed nou weer op die been.

Volksblad het gister met dié leerling van die Hoërskool Witteberg op Bethlehem gesels.

Nadat sy ma en ‘n inwoner van Bethlehem vir hom gebid het, kon Ruan weer loop.

Witteberg het Saterdag teen die Goudveld-Hoërskool van Welkom op Bethlehem kragte gemeet.

Ruan het as binnesenter en onderkaptein vir sy skool se eerste rugbyspan uitgedraf.

Aan die einde van die eerste helfte was hy sterk op pad doellyn toe.

rugby1505Net toe hy wou duik om die drie te plant, is hy “teruggeduik”.

Ruan het ‘n “klap” in sy rug gevoel en dit was baie seer.

Toe hy in die ambulans gelaai is, kon hy nie meer sy bene beweeg of sy rugbystewels aan sy voete voel nie.

Hy is deur ER24-nooddienste na die Hoogland-Medi-Clinic op Bethlehem gehaas.

Sondagoggend kon hy steeds nie sy bene voel nie. Mense moes hom ook help loop.

Ruan was baie ontevrede, want hy wil bitter graag op 6 Junie vir sy skool rugby speel wanneer Witteberg en die Hoërskool Voortrekker, ook op Bethlehem, mekaar pak.

“Dit is ‘n belewenis vir ‘n matriekrugbyspeler.”

Sy ma, Toetie, en mev. Helene Deyzel van Bethlehem, het toe Sondag sy hande vasgehou en vir hom gebid.

Nie lank daarna nie het sy rug begin pyn en sy bene het saamgetrek. Toe kon hy sy bene weer self beweeg en het hy geloop om water te gaan drink. “Ek moet dankie sê vir die Here,” sê hy.

Hy loop steeds op sy eie en ondergaan intensiewe fisioterapie. Ruan sê sy rug is nog styf en in spasma.

Vicus Bürger – Volksblad

Scroll to Top