Oppas

In Rigters 2:8-10 lees ek tragiese woorde. Dit vertel hoedat Israel die Here gedien het terwyl Josua en die mense van sy tyd nog geleef het. Maar toe gaan hulle dood. Die nuwe geslag het nie die Here geken nie. Boonop het hulle ook nie geweet van al die groot dade wat Hy verrig het om sy volk te verlos nie. Wat ‘n tragiese verhaal ontvou in hierdie paar verse. Dit vertel van ‘n ganse geslag se ongeloof.

Hoe is so iets moontlik? Wel, dit kan net gebeur as mense ophou om die Here met hulle hele hart lief te hê en hulle geloof in die teenwoordigheid van hulle kinders en ander uit te leef. Dit kan net gebeur as godsiens nie meer hartsake is nie, maar kliniese kopsake. Dan boei of interresseer dit niemand anders nie. Dan beland ‘geloof’ in die museum vir bedreigde spesies. Dan sterf dit uit saam met diegene wat slegs nog die tradisies van geloof in stand hou. Mag die Here ons hiervan bewaar. Mag sy Gees ons harte brandende hou vir die Evangelie. Mag ons Hom met oorgawe dien! Anders is Rigters 2 se skandes ook ons nageslag se voorland.

~Radio Kansel

© 2007 Radiokansel. www.radiokansel.co.za

Scroll to Top