Om koers te hou

“as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard,” Jakobus 1:3.

 

 

Uithouvermoë beteken om “koers te hou.” Uithouvermoë is maar net nog ’n woord, totdat jy ’n huwelik vol twis moet hanteer, die lang pad ná ’n bankrotskap, egskeiding of siekte moet aandurf, jou lewe moet bymekaarskraap, of jouself moet voorberei om sukses op enige gebied te behaal. Dit verg toewyding om aan te hou wanneer jou vriende jou in die steek laat, wanneer Ontmoediging “Gee boedel oor!” in jou oor fluister en wanneer Twyfel sê: “Dit is onmoontlik!” In hierdie tye kry volharding nuwe betekenis. Dit word jou anker in ’n storm, jou kompas in tye van wanorde, en die ekstra uithouvermoë wat jou help om oor die volgende heuwel te kom.

Onthou, God weet wanneer dit die regte tyd is om ‘n beproewing te beeindig. Hy belowe twee dinge aan ons: (1) Sy vertroostende teenwoordigheid (Jes. 43:2-5) en (2) die versekering dat Hy nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie (1 Kor. 10:13).

 

Daar is egter nog ’n rede om uithouvermoë te hê – ander mense hou ons dop! Paulus het geskryf: “Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, maar in alles laat ons, ons ken as dienaars van God … met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood … ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely … onberispelik … met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid … deur die krag van God. Ons ontvang eer en oneer, ons word beledig en geprys … behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar; as onbekendes, en tog is ons goed bekend; as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe; as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie; as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd; as armes, maar ons maak baie ander ryk; as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles,” (2 Kor. 6:3 – 10). Dit is wat dit behels “om koers te hou.”

 

 Uit: ” Woord vir Vandag” ‘n publikasie van Radiokansel | www.radiokansel.co.za

Scroll to Top