Om God te dien met een wenkbrou

RKLogo_Reg

RKLogo_RegDavid Rabin was ‘n mediese professor by Vanderbilt Universiteit. Op 46-jarige ouderdom is hy gediagnoseer met Lou Gehrig-siekte. Hy het geweet wat om te verwag: Aanvankilik styfheid en dan swakheid in sy bene, gevolg deur verlamming van eers sy onderlyf en dan sy bolyf. Woorde het hy met moeite gevorm en gaandeweg kon hy nie meer praat nie. Hy kon nie meer pasiënte sien nie, wat nog te sê by die hospitaal gaan werk. Waar hy ‘n briljante akademiese loopbaan gehad het kon hy nou nie eers die bladsye van ‘n boek omblaai nie. Maar een ding was hy nie bereid om op te gee nie: sy gees! Op ‘n dag het ‘n kollega hom vertel van ‘n rekenaar wat met die druk van ‘n enkele knoppie gebruik kon word. Selfs ‘n persoon wat net die gebruik van één spiergroep behou het, kon die knoppie druk. David Rabin kon nog net een spier in sy liggaam gebruik – sy wenkbrou. Oor die volgende vier jaar het hy sy wenkbrou gebruik om met sy familie te kommunikeer, grappies te vertel, verhandelinge te skryf en manuskripte na te sien. Hy het in sy eie mediese praktyk gekonsulteer en studente opgelei. Hy het selfs ‘n omvattende handboek oor endokrinologie gepubliseer en ‘n gesogte toekenning vir sy werk ontvang. Dít alles het hy gedoen met die een ding wat hy kon beheer – ‘n enkele wenkbrou.

Die Bybel sê: “Innerlike sterkte laat ‘n mens sy liggaamlike siekte dra” (Spr 18:14 NLV). David Rabin het bewys dat dit waar is. Met ‘n onblusbare gees en een wenkbrou het hy God gedien en was ‘n seën vir die wêreld om hom!

© Radiokansel.co.za

Scroll to Top