‘n Omgekeerde “kerk”

2011-09-06 180844

2011-09-06 180844Kom ek vertel vir jou wat met my gebeur het ‘n paar weke terug. ‘n Broer in Jesus kom sit langs my en vertel my iets wat hy voel Jesus wil hê hy moet my van vertel.

Hy vertel my van die dag toe hy en sy kinders die fliek, Poseidon Adventure, gaan kyk het, waarin ‘n groot passasiersboot onderstebo geslaan is deur ‘n golf.

In die fliek, waar die boot onderstebo in die water lê, beleef hy die Here wil met hom praat oor wat hy sien.

Hy beleef hoe die Here met hom begin praat oor ‘n boot wat ook so onderstebo in die water lê, maar anders as met die Poseidon Adventure, nie sink nie. Verder is daar genoeg suurstof, kos en alles wat nodig is vir almal op die boot.

Die Here vra hom toe: Kan jy dink hoe moes dit so na ‘n week wees in so ‘n omgekeerde boot?

Alles is onderstebo. Die tafels hang aan hulle pote vasgeskroef van die plafon af. Deurkosyne is onderstebo.

Kan jy jouself indink in so ‘n situasie?

Die Here vra hom toe: Kom ons stel ons voor ‘n maand het verbygegaan. Die boot is nog stééds onderstebo, maar nou beleef die mense dit as bykans normaal!

Die mens se brein is mos ‘n wonderlike ding. Hy draai letterlik onderstebo-dinge om – as dit nodig is – om dinge te “laat terugkeer na normaal”.

Daardie onderstebo tafels is dan nie meer tafels nie. Dit is nou pakplek vir tasse – as mense dit kan bykom omdat dit laag genoeg is. En daardie onderstebo deurkosyne het nou ‘n groot hulp geword vir die mammas met klein jong kinders. Die kinders kan nou nie sommer by ‘n vertrek uitloop of -hardloop nie, want die muur tussen die onderstebo kosyn en die vloer keer hulle. ‘n Grootmens moet nou kom om hulle oor daardie muurtjie te tel om buite te kom.

Dan gaan die Here voort met die gesprek. Hy vertel dat daardie omgekeerde boot nou vasgedryf het teen ‘n bewoonde eiland. Kort voor lank kom klop iemand van buiteaf aan die boot. Binne-in die boot vat dit egter ‘n lang ruk vir hulle om ‘n opening te kry wat hulle na buite kan oopmaak. Maar toe die “dapper een” sy kop by hierdie opening uitsteek, voel hy hierdie vreemde wind- en hitte-sensasie van buiteaf op sy gesig waai, wat amper maak dat hy nie eers wil uitgaan nie. Dit is immers baie lekkerder in hulle boot!

Tog waag hy en ‘n paar ander dapperes om uit te klim en om vir ‘n tyd op die eiland rond te loop.

In die proses ontdek hulle hoeveel hulle gemis het daar in die omgekeerde boot en daarom gaan haal hulle ook die res van die passasiers om saam met hulle op die eiland te kom woon.

Aangekom by een van die huisies op die eiland, gaan sit hulle toe een aand om die tafel.

Die ou van die boot af vra toe vir die inwoners van die huis: Maar watse ding staan hier in die middel van die vertrek wáár rondom ons sit?

Dit is ‘n tafel, antwoord hulle hom.

Nee, sê hy. Dit is nie ‘n tafel nie. ‘n Tafel is iets wat aan die plafon vasgeskroef word waarop jy jou tasse kan pak.

Hier eindig die Here se verhaal aan my vriend.

My vriend sê toe: Ek het onmiddellik verstaan wat die Here vir my en jou daarmee wil sê. In 1992 het die Here jou opdrag gegee en gesê dat Hy jou gaan gebruik om “nuwe wyn” (daar uit Luk. 5:37-38) aan Sy mense wat in ‘n Nederduits-Gereformeerde wêreld grootgeword het, te bedien.

Dit is wat jy sedertdien gedoen het. Maar wat belangrik is om te verstaan, is dat jy dit aan mense vertel wat ‘n mens in ‘n sin kan sê in ‘n omgekeerde “kerk” grootgeword het. Omdat dit ‘n Bybelse kerk is, ken die mense al die begrippe, maar dit beteken nie noodwendig hulle verstaan presies wat God daarmee bedoel nie. Oor die jare het kerklike tradisies en maniere van doen daardie begrippe gevul met ander betekenisse as wat God oorspronklik bedoel het. Dit is juis waarom “nuwe wyn” nodig is. God wil juis ons ou paradigmas en ou maniere van dink en doen verander deur ou, Bybelse waarhede nuut aan ons te bedien, sodat ons dit vir die eerste keer werklik kan verstaan!

Kan ek hierdie gedeelte afsluit met ‘n baie persoonlike opmerking?

Miskien het jy baie maklik ja en amen gesê op dit wat ek die afgelope tyd geskryf het, want dit klink na al die dinge wat jy in die Bybel lees. Gaan sit ‘n bietjie by die Here se voete en hoor by Hom of daar nie dalk iets is wat jy nie mooi verstaan het nie. Vra vir Hom om deur Sy Gees “nuwe wyn” aan jou daaroor te bedien.

Christo Nel (www.nuwewyn.co.za)

Scroll to Top