Sê vandag “Ja” vir vreugde

ImageJannie was desperaat om gewig te verloor, sy dokter sê toe vir hom: “Eet normaal vir twee dae en spring dan ‘n dag. As jy hierdie patroon vir ses weke lank herhaal, sal jy 5 kg verloor. Na twee weke het Jannie 10 kg verloor! “Hoe het jy dit reggekry?” wou sy dokter dood verbaas weet. Eerlikwaar, Dok, ek het gedink ek gaan doodgaan!” het hy geantwoord. “Was jy dan baie honger?” het die dokter gevra. “Nee!” het Jannie uitgeroep. “Daardie derde dag wat ek heeldag moes spring, het amper my einde beteken!” Die lewe hoef nie so moeilik te wees nie! Ons bring dit oor onsself wanneer ons “Nee” sê vir vreugde omdat ons dink dat ons dit nie verdien nie. As ons goed voel oor onsself omdat ons nie onsself iets wil gun nie, gaan dit nie vir ons punte by God in die sak bring nie! Ook nie wanneer ons ‘n martelaarsgesig opsit en hoop dat iemand ons sal red nie.
‘n Klein seuntjie het vir sy ma gevra of hy by sy maatjie kan gaan oorslaap. “Hoekom?” het sy gevra. “Sommer vir die pret,” het hy geantwoord. “Maar jy het dan gisteraand by hom geslaap,” het sy gesê. “Wie sê mens mag nie vir twee aande in ‘n ry pret hê nie?” was sy redenasie. Pasop daarvoor om nie soveel reëls en regulasies vir jouself neer te lê dat jy soos een van die Fariseërs word wat slawe geword het van die wette wat hulle geskep het nie. Hoe lank gelede het jy “Ja” gesê vir ‘n bietjie vreugde? Paulus het gesê: “Wees altyd bly!” Waarvoor wag jy? As jy trots daarop is dat jy altyd ernstig, gestruktureerd en standvastig lewe, is dit dalk tyd vir ‘n bietjie balans. Laat ‘n bietjie spontaneïteit in jou lewe toe.
Die Bybel sê: “(U) laat in U juig die wat u Naam liefhet,” (Ps. 5:12, OAV). “Wees altyddeur bly,” (1 Tess. 5:16, OAV). Sê vandag “Ja!” vir vreugde!
© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top