‘n Goeie gewete

watergate1012

watergate1012In sy kommentaar op die Watergate skandaal, het Jeb Magruder, ‘n raadgewer vir president Richard Nixon, aan die Senaatskomitee van Ondersoek gesê, ‘Ons het onsself gebluf deur te dink ons was nie met iets onwettig besig nie. Teen die tyd wat ons wél onwettige dinge gedoen het, het ons reeds beheer verloor.’ Paulus praat van ‘…leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete…’ (1 Timoteus 4:2 1953-Vertaling). In die Bybel se tyd was dit algemene gebruik om ‘n wond met ‘n brandende yster te kouteriseer (toe te skroei). Dit het ‘n lelike, harde roof veroorsaak. Verstaan jy? Paulus sê eintlik, ‘Moenie verhard en ongevoelig teenoor die sonde word nie.’

Jou gewete is soos ‘n bewegingsverklikker. Dit laat jou weet dat die booswig jou huis binnegedring het. Paulus sê aan Timoteus: ‘Hou styf vas aan jou geloof in Christus, en hou altyd jou gewete skoon. Want sommige mense het opsetlik hulle gewete onderdruk, en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely.’ (1 Timoteus 1:19 NLV). Jou gewete moet in goeie toestand wees. Regeer op waarskuwings; laat sy voorskrifte jou lei; en maak seker dat die Skrif altyd jou basis is. Martin Luther het gesê, ‘My gewete is deur die Woord van God gevange geneem, en dis nie reg of veilig om gewete of Skrif te verontagsaam nie.’ Jý hoef dit nie te doen omdat ‘almal dit doen nie.’ Al ‘kom jy weg daarmee’ beteken dit nie daar gaan nooit gevolge wees nie. Al ‘voel dit reg’ beteken nie dit ís reg nie. As jy waarlik met God wil wandel, maak Luther se lewensformule ook joune: ‘My gewete is deur die Woord van God gevange geneem.’

Bron : Radiokansel

Scroll to Top