
Daar ontdek ons die groter prentjie waaroor alles eintlik gaan, naamlik die evangelie van die Koninkryk van God wat in Christus Jesus ook hier op aarde gekom het en besig is om te kom.
Daar aan die voete van Jesus Christus, ons Verlosser en Koning, ontdek ek en jy ook stelselmatig waar ons spesifiek inpas in hierdie groter prentjie.
Daar ontdek ons nie net God se wil in die algemeen nie, maar ook God se spesifieke wil vir my en my lewe en dit wat op hierdie oomblik in my lewe aan die gebeur is en wat tans op my tafel lê.
In my eie lewe was hierdie ontdekking merkwaardig, naamlik dat ek en my lewe en selfs dit wat op die oomblik in my lewe aan die gang is, êrens in ‘n groter prentjie inpas! Ja, dat niks daarvan toevallig is nie. Alles het betekenis!
Wat hiermee saam in my lewe gebeur het – en ek weet nie of dit met alle mense so gebeur nie – is dat ek daar in Sy teenwoordigheid geleer het om aanhoudend te kies om juis dit te glo.
Miskien moet jy hierdie sinnetjie hierbo net weer ‘n keer lees, want dit is eintlik ‘n geweldige mond vol.
Kom ek probeer dit so vir jou verduidelik.
Wat ek ontdek het aan die voete van Jesus oor my lewe, oor die roeping en opdrag wat God vir my vir nou het, maar ook oor die dinge wat op die oomblik in my lewe aan die gang is, is dat ek gedurig geloof nodig het om te glo wat God vir my daaroor sê.
So het ek op die oomblik geloof nodig om te bly glo dat God vir elke ding wat in my lewe gebeur ‘n plan en ‘n rede het.
Ek het geloof nodig om te bly glo dat God, soos Rom. 8:28 sê, die beste vir my kan laat gebeur uit die slegste dinge wat tans deel is van my elke dag se ervaringe en wedervaringe.
Ek het in die besonder geloof nodig om nou in geloof die treë te gee wat ek nodig het om te gee om nou te doen wat God wil hê ek moet doen.
Ek het geloof nodig om Hom nou te vertrou vir die dinge wat ek nou nodig het om die dinge te doen wat Hy my beveel het.
En dit bring my by die skokkende ontdekking wat ek gemaak het. Naamlik dat ek, as ek baie eerlik moet wees, moet bely dat ek nie hierdie dinge altyd gemaklik kan glo nie.
Ek moes ontdek dat, soos met my hele gelowige volgeling van Jesus-wees, selfs die geloof wat God van my vra, nie uit myself natúúrlik gewys kan kom nie.
Soos alles, moes ek kies om in geloof op Jesus Christus wat in my woon en lewe, te rus en Hom alleen ook hiervoor te vertrou.
Dit is soos Paulus daar in Fil. 4 vir ons leer wat in sy lewe gebeur het.
Hy het geleer dat om werklik die tye van tekort en die tye van oorvloed gelowig in sy lewe te kon leer hanteer, was dit “Christus wat vir hom die krag” gegee het. Ja, dat “hy tot alles in staat is” deur Christus wat vir hom die krag/vermoë gegee het.
Ons geloof skiet heeltyd te kort.
Met ander woorde, ook wat ons geloof betref, moet ons as’t ware “sterf” en ontdek dat “ek nie meer leef nie, maar dat Christus Jesus in my lewe”.
My “geloof” is inderwaarheid maar net ‘n keuse wat ek maak om oop leë bedelaarshande na Jesus Christus uit te steek en om Hom te vra:
Here Jesus Christus, U wat in my woon en lewe deur U Gees, kom en gee my die krag om U ook in hierdie situasies te bly glo en U te bly vertrou.
Ek kies nou om U hiervoor te vertrou. Amen.
En dit stel my in staat om in hierdie situasie vas te staan en te bly glo.
Christo Nel (www.nuwewyn.co.za)



