Moenie rolspel speel nie

RKLogo_Reg

Die moderne lewe is gemaak vir rolspel. Ons bly byna ons lewe lank in ‘n buurt en tog ken ons skaars die gesin langsaan. Ons ry heen en weer na ‘n kerk wat kilometers weg is, loop in en uit, word nie geken nie, raak nie betrokke nie, en dien nie. Ons werk saam met een groep en speel saam met ‘n ander groep. Die geleenthede tot verborge aktiwiteite is eindeloos. Omdat niemand ons in ‘n ander konteks ken nie, kan ons onsself elke keer nuut maak. Iemand het gesê ons lewe is soos ‘n laaikas met ‘n aparte laai vir elke belangstelling, waarde of tydverdryf – een vir werk of skool, een vir speel en een vir kerk. Vir elkeen het ons ‘n ander stel waardes en ‘n ander taal. Vir elke nuwe situasie sit ons nog ‘n laai by om te verseker dat dit gepas en veilig is. Ons sal eerder rolspel speel as om eenheid en integriteit van karakter te bekom.
Maar God sien ons nie as ‘n laaikas of ‘n versameling van aparte rolle nie, Hy sien ons as ‘n heel persoon. Wie ons is as niemand kyk nie, is vir Hom net dieselfde as wanneer ons deur baie gesien word. God vra integriteit in ons lewens. Dit is omdat die lewe nie op ‘n ander manier werk nie! God het ons met een wil, een verstand, een hart en een gees gemaak. Dis ‘n leuen van Satan ‘dat ons dinge van beide kante kan ervaar’, wat ons verstandelik en emosioneel gefragmenteer en slegter laat – ver van God!
“Wat is die antwoord?” vra jy. Die Bybel sê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand,” (Matt. 22:37, NAV). Met ander woorde, moenie rolspel speel nie!

© Radiokansel 2009

Scroll to Top