
In die era van aandagafleibaarheidsindroom werk hierdie eeu oue voorstel steeds: hou dit eenvoudig. Paulus skryf, ‘Moenie ophou bid nie.’ (1 Tessalonisense 5:17). ‘Maar hoe kan ek dit doen?’ vra jy. Een manier is om soos vele groot geestelikes deur die eeue ‘asem gebede’ te gebruik. Jy kies ‘n eenvoudige frase wat in een asemteug herhaal kan word: ‘Here, U is met my’; ‘Ek maak staat op U’; ‘Ek wil U beter leer ken’; ‘Help my om meer te vertrou’. Jy kan ook kort Bybeltekste gebruik: ‘Vir my is die lewe Christus’; ‘U sal my nooit verlaat nie’; ‘U voorsien in al my behoeftes’. Herhaal hierdie frases totdat hulle deel van jou wese word en deur jou gesindheid en optrede weerspieël word. Dis ‘n vaardigheid, ‘n gewoonte wat jy kan ontwikkel. Jy kan jouself leer om op verskillende tye van die dag aan God te dink – nes musici hulle toonlere elke dag moet oefen om beter te kan speel. ‘Maar ek voel soms nie die teenwoordigheid van God nie,’ sê jy. As jy na ‘n emosionele belewenis op soek is, tas jy totaal mis. Jou doelwit is die voortdurende wete dat God altyd met jou is, nie ‘n vlietende gevoel nie!
Bron : Radiokansel




