
Moenie glo dat sommige mense maar net van nature meer liefdevol as ander is nie. Liefde is ‘n keuse, en dit kom teen ‘n prys! Jy kan nie liefde aan ander gee wanneer jy gedurig in die spieël staar, of verbete vasklou aan wat jy besit nie. Liefde sal jou jou tyd, jou geld en jou selfbetrokkenheid kos. Moenie dink dat jy soms ‘n erediens kan bywoon, ‘n selfhelpboek lees, of ‘n seminaar bywoon en sonder meer in ‘n onselfsugtige mens sal verander nie. Daar is geen kitsformules nie. Ten einde lief te hê, moet jy jou kruis opneem, jouself verloën en aan ander voorrang verleen. Onthou jy die vrou wat op owerspel betrap is? Jesus het haar opgehelp, bygestaan en haar as verloste huistoe gestuur. Wil jy waarlik soos Hy wees? Gaan soek die lydendes en hulpeloses, en diegene wat verkeerd doen. Bedien hulle totdat hulle verlos en herstel is en reg doen. Dis ‘n onbaatsugtige lewe!
Bron : Radiokansel


