
Die Bybel sê: “…Hy ons saam met Christus lewend gemaak het. Dis dus God se onverdiende goedheid wat maak dat julle gered is!…Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie, want dit is God se handewerk” (Efesiërs 2:4-9 NLV). Toe Nikodemus met Jesus kom praat het oor verlossing, het hy verwag dat Jesus hom sou beveel om die wet te gehoorsaam. Wat hierdie prominente geestelike leier nie kon begryp nie, is dat God se verlossing allesomvattend is. Ons kan dit nie verdien nie. God word nie beïndruk deur ons goeie werke nie; in Sy oë is ons beste dade “…soos vuil klere…” (Jesaja 64:6 NLV). Wat ‘n oorweldigende gedagte! Robert Lowry het geskryf: “Nothing can for sin atone; nothing but the blood of Jesus. Naught of good that I have done; nothing but the blood of Jesus. Oh precious is the flow, that makes me white as snow. No other fount I know; nothing but the blood of Jesus.” Paulus skryf: “…nou spreek God ons vry…en dit sonder enige verdienste van ons kant” (Romeine 3:24 NLV). Hy bied Sy genade vandag vir jou aan. Sal jy dit aanvaar?
Bron: Radiokansel



