
Jy moet besef dat sommige mense uit jou verlede, nie die huidige (nuwe) jy sal herken nie, omdat hulle jou reeds ‘geoordeel’ het. Jy moet egter net op jou ingeslane weg voortgaan – soos Jesus gedoen het; Hy kon níks anders doen nie. Hy het mense nie toegelaat om hom in ‘n fase van Sy lewe, wat heeltemal verby was, gevange te hou nie. Jy moet dieselfde doen. Anders gaan jy jou Godgegewe roeping verpas. Dis wonderlik om mense in jou lewe te hê wat jou verlede ken, maar ook besef waarheen jy nóú op pad is.
Indien jy sou moes kies tussen tóé en nou, moet jy nou kies, want tóé kan nie herskryf word nie; net oor en oor beleef word. Skryf die res van jou verhaal, moenie vassteek by jou begin nie. Die toekoms behoort aan jou – gryp dit terwyl jy kán.
Daar is ‘n amusante staaltjie van ‘n gholfspeler wat nie die bal kon raakslaan nie, maar keer op keer ‘n miershoop getref het. Uiteindelik het een mier geskree, ‘Volg my.’ ‘n Ander het geskree, ‘Waarheen?’ Die eerste mier het na die bal gewys en gesê, ‘Daarnatoe. Ons gaan sterf as ons nie op die bal kom nie!’
Bron : Radiokansel



