
‘n Goeie predikant het op ‘n keer aan ‘n groep jong aspirant-predikante gesê: ‘Preek vir die mense wat swaarkry en jy sal altyd ‘n gemeente hê.’ Daar is ‘n gebreekte hart in elke kerkbank. Toe Petrus sy eerste brief aan medegelowiges in Asië geskryf het, het hy op die een ding gefokus wat hulle almal byeengebring het – swaarkry. Hierdie mense is geskroei deur dieselfde vlamme van vervolging wat die apostels se lewens binne ‘n paar jaar sou eis. Hul omstandighede was so sleg soos dit kan wees. Petrus het nie probeer om hulle beter te laat voel met positiewe denke nie. Nee, hy het sagkens sy hand onder hul kenne gesit en hul gesigte opwaarts gerig – sodat hulle verby hul omstandighede kon kyk en hul hemelse roeping kon sien.
Party mense weet instinktief wat om te sê om ander aan te moedig; hulle is die mense wat ons soek as ons swaarkry. Jetro het Moses moed ingepraat (Eksodus 18); Epafroditos het Paulus geestelik bedien (Filippense 2:25-30). Vra God om jou die soort vriend te maak wie se teenwoordigheid vertroosting en bemoediging gee.”
Bron : Radiokansel




