
Oppad terug van die kafee sien ek in die verte iemand wat aan die linkerkant van die pad loop. Sy beeld is vaag. Soos ek nader ry is dit sy snaakste manier van loop wat my aandag trek. Ek probeer bepaal loop hy stroomop of stroomaf. Logika sê stroomop. In daardie geval behoort jy darem die “voorkant” te kan sien; maar ek sien die man se rug… maar hy loop stroomop? Of is dit nou stroomaf?
My volgende waarneming veroorsaak spastiese sametrekkings op my voorkop…hy het ‘n valhelm op sy kop maar daar waar die oë moet wees beloer ‘n bos hare my emosieloos. ‘n Gesiglose ding wat agterstevoor-vooruit loop?
Nou begin ek wonder : Hallusineer ek?; is ek besig om die klits kwyt te raak of haal gisteraand se rillerprent my in?
Ek maak die volgende gevolgtrekking; Hier is iemand wat teen die verkeer loop, vinnig agteruit met ‘n agterstevoor valhelm op sy kop.
Dis nogal vreksnaaks!, maar nie so skreeusnaaks toe die hele prentjie voor my finaal ontvou nie;
Aan sy agterkant (of is dit nou sy voorkant), is ‘n hond. Die hond is op twee pote, sy ander twee pote is in die man se hande. Dit lyk asof die hond die man agteruit stoot. Die hond is heel gelukkig, sy kop hang een kant toe (sy tong ook) en dit lyk asof hy verby die man, straatop kyk.
Dis bisarre!
Nou wonder ek al ‘n paar dae lank oor die volgende;
- Is hy bang iemand herken hom?
- Probeer hy mense bang maak?
- Bemark hy ‘n nuwe oefen program wat jou diere insluit?
- Was die hond dalk aggressief en hy bang hy word gebyt?
- Is hy nie dalk al voorheen gebyt en het besluit dit sal nie weer gebeur nie?
- Het die hond hom “ge-dare”?
- Het hy die hond “ge-dare”?
- Was hy nie dalk dronk en onder die indruk dat hy op sy motorfiets ry nie?
- Of, het hy dalk verdwaal en net die hond weet waar hy bly?
- Was dit nie dalk onse eie “Big-Foot” wat homself gekamoefleer en die hond vir prooi aangesien het nie?
Ek besluit op die volgende logiese verklaring;
Voor hy op die motorfiets klim sit hy sy valhelm op. Hy loop en maak die hek oop. Die verpeslike hond glip by hom verby en hardloop 10 meter straataf tot by die naaste boom en lig sy been.
Hy loop agter die hond aan, maar net toe hy die hond wil gryp, sien die hond hom aan vir ‘n gemaskerde “monster”. Die hond laat spaander verder straat af en hy hol agterna. So vêr soos hy hol skreeu hy op die hond, maar, omrede hy sy valhelm ophet, kan die hond hom nie hoor nie.
In die hardloop lig hy sy helmet af en skreeu so hard dat sy stembande breek. Ongelukkig dink die hond die man skel hom en trek sy ore platter om vinniger te kan hardloop.
Die man kom agter dat as hy die hond wil inhaal, sal hy die helm moet terugsit om meer vrylik sy arms te kan beweeg. Dis hoe die helmet agterstevoor op sy kop beland.
Drie straatblokke verder het die hond al reeds gestop om weer sy been te lig teen ‘n motor se wiel.
Die man kom uiteindelik ook uitasem daar aan en gryp die hond toe dié om die motor loop na die anderkantste linkervoorwiel. Hy gryp die arme hond aan sy halsband, maar toé spartel hy eers verskriklik, want sien, die “monster” wat hom netnou gejaag het se kop kan in die rondte draai.
Hy het geen ander keuse as om die hond aan sy voorpote op te tel en te trek nie.
Dan die verklaring van die laaste onduidelikheid. Hoekom het hy so vinnig agteruit gedrafstap met die hond agterna?
Eenvoudig; Hy was bitter laat vir ‘n troue, hy is die dominee wat die diens moes waarneem.
Johann de Jager (www.ministriesworldwide.net)




