
Paulus het verstaan dat sy werk nie was om almal gelukkig te hou nie, maar om te fokus op dit waarvoor God hom geroep het en toegerus het om te doen. Slegs as jy dit doen, sal jy suksesvol wees op die manier waarop God sukses definieer.
Satan sal probeer om die vreugde van jou werk van jou af weg te neem deur te maak dat jy jouself met ander vergelyk. Moenie in hierdie slaggat trap nie! Daar sal altyd iemand wees wat lyk of hulle beter is as jy en jy sal moedeloos raak. Of jy gaan iemand kry wat minder suksesvol is as jy, en jy sal verwaand raak. Al twee situasies gaan veroorsaak dat jy benadeel word.
Daar sal altyd mense wees wat nie jou Godgegewe rol verstaan nie en nie met jou saamstem nie. Dis nie die ergste nie; moenie toelaat dat dit jou beïnvloed nie! “Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ‘n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie…” (2 Timoteus 2:15 NLV). “Oor hierdie dinge moet jy praat. Met gesag moet jy ook bemoedig en teregwys. Moenie toelaat dat iemand jou geringskat nie.” (Titus 2:15 NLV).
John Bunyan, die outeur van Pilgrim’s Progress, skryf: “As my lewe vrugteloos is, maak dit nie saak wie my komplimenteer nie. En as dit vrug dra, maak dit nie saak wie my kritiseer nie.”
Bron : Radiokansel


