Huil van binne

gallilee2810

gallilee2810Jesus het nie die stormagtige See van Galilea oorgesteek net om ‘n versteurde man te ontmoet nie. Hy het dit gedoen omdat hierdie man, hoe hard en ongenaakbaar hy ook al gelyk het, besig was om in sy binneste te huil. Hy het homself en sy omstandighede gehaat. Wat van jou? Huil jy van binne oor jou lewe? Dalk wou jy ‘n beter ouer gewees het, ‘n getrouer metgesel, ‘n eerliker werknemer of ‘n voorbeeldiger leier, maar dinge het nie so uitgewerk nie en nou is jou lewe ‘n gemors.

Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is, want Hy sal hulle hartsverlange bevredig.” (Matt 5:6 NLV) Die eerste stap is om te wil verander! Dank die Vader dat Jesus nooit gesê het: “Gelukkig is dié wat reeds goed genoeg is” nie, anders was ons in groot moeilikheid! Nee, Hy het gepraat met mense wat die regte ding wil doen, wat steeds glo hulle kan, al doen hulle dit nie tans nie; diegene wat méér begeer.

Onthou, dis nie wát jy gedoen het wat jou ‘n kandidaat maak vir God se vergifnis nie, dis hoe jy voel oor wat jy gedoen het. God sal jou nooit veroordeel omdat jy Hom vir hulp vra nie. Bevryding begin met die begeerte en bereidwilligheid om jou probleem aan te spreek. Wat is jou hartsverlange? Wat omtrent jou lewe wil jy graag verander? Reik uit na God vir hulp. Hy sal met liefde en vergifnis antwoord en jou nie teleurstel nie!

Kopiereg 2009 Radiokansel

Scroll to Top