Help in nood

ImageOns lewe in ‘n wêreld vol bekommernis. Natuurrampe soos tornado’s, aardbewings en tsoenami’s, menslike rampe soos oorloë, terrorisme, finansiële ineenstortings en stygende oliepryse veroorsaak dat ons angstig deur die lewe gaan. Elke nag bombardeer die media ons huise deur aan ons nuus te bring “terwyl dit gebeur”, en stel ons bloot aan ‘n nuwe verskynsel genaamd ’empatie-uitputting’. Hedendaagse sielkundiges sien die hulpeloosheid, spanning, weerloosheid en depressie waaraan ons ly raak, terwyl ons kyk en wonder: “Wat as ons volgende is op die terroriste se lys óf getref word deur ‘n natuurramp? Wie gaan ons beskerm?”
Die Bybel sê die volgende aan ‘n vreesgevulde hart:
(1) “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood,” (Ps. 46:1, NAV). In hedendaagse Afrikaans: Hy sal ons help wanneer ons in die moeilikheid beland. Is dit nie ‘n wonderlike belofte nie! Wanneer jy in die moeilikheid is, is God beskikbaar om jou te help. Let op dat dit nie hier sê dat God teësinnig of net soms help nie. Nee! “Hy was nog altyd bereid om te help.” Wat meer het jy nou eintlik nodig?
(2) “Daarom is ons nie bang nie,” (Ps. 46:3, NAV). Jy hoef nie paniekerig te raak, tou op te gooi, of jouself oor te gee aan moedeloosheid nie. ‘n Bekende liedskrywer het gesê: “Hy is so naby soos die noem van sy naam.” Noem net sy naam in ‘n gebed en Hy sal daar wees vir jou.
(3) “Al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid,” (Ps. 46:4, NAV). Wanneer alles bedreig word wat jy gedink het stabiel is en waarop jy vertrou het, in duie begin stort, sal jy steeds daar wees waar jy nog altyd was – in die sterk en liefdevolle arms van God, die Een wie “altyd bereid is om te help in nood”.
© Radio Kansel 2009 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top