Die antwoord op onbekwaamheid (2)

power2008

power2008Paulus skryf: “Ek het na julle gekom in swakheid – angstig en vol huiwering. My boodskap en prediking was bitter eenvoudig. Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het.” ( 1 Kor 2:3-5 NLV) Hy sê verder: “Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie.” (2 Kor 4:7 NLV)

Paulus het nie slegs sy onbekwaamheid belei nie, maar het ook besef dat dit God se manier was om hom meer effektief te gebruik. Luister: “Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my te kasty. Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.” (2 Kor 12:7-10 NLV) Ongeag hoe lank jy al ‘n pad met jou Verlosser loop, elke greintjie van jou bekwaamheid kom steeds van Hom af. Belei dit en moet dit nooit vergeet nie!

Kopiereg 2009 Radiokansel

Scroll to Top