God sal vir jou die regte woorde gee

speaking2011

speaking2011

Jesus het gesê: “…moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die regte woorde sal op die regte tyd vir julle gegee word. Dit sal nie júlle wees wat die praatwerk doen nie, maar die Gees van julle Vader wat julle as sy spreekkanale sal gebruik” (Matteus 10:19-20 NLV). Beteken dit dat ons onvoorbereid moet wees? Nee, dit beteken slegs dat ons moet ophou om alles vooraf te probeer uitwerk, vir elke moontlike situasie. Dit maak jou net moeg. Jesus het Sy dissipels gemaan om hul lewens ten volle aan God toe te vertrou en op die Heilige Gees staat te maak om hulle te lei, te beskerm en vir elke situasie toe te rus. Dieselfde geld ook vir ons. Wanneer ons byvoorbeeld moeilike besluite moet neem, ingewikkelde probleme moet oplos of moeilike mense moet hanteer, sal God se Gees die regte tyd en die regte benadering bepaal. Hy sal ook vir ons die regte woorde gee om te sê. Tot dan moet jy jou nie daaroor bekommer nie. As ons net sal luister na wat God in hierdie skrifgedeelte sê, sal ons nie net meer vrede hê nie, maar ook meer sukses. Wanneer ons dan moet praat, sal ons woorde gevul wees met die geestelike wysheid van God en nie met ons eie vleeslike gedagtes nie. Jou verantwoordelikheid is nie om die toekoms te ken nie; maar slegs om God, wat die toekoms ken, te vertrou en te weet dat jy veilig is in Sy hande.

Radiokansel

Scroll to Top