Moenie van die plan afwyk nie (2)

ImageJesus het geweet dat Judas Hom sou verraai en tog het Hy hom nie gestop nie. Hy kon twaalf legioene engele ontbied het om Hom te help, tog het Hy dit nie gedoen nie. Onder die gewig van al ons sondes, het Hy van die kruis af uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Jesus het dit alles gedoen omdat Hy God se plan met Hom verstaan het. Sy woorde: “God, waar is U?” leer ons: (a) Jy kan deel wees van God se plan en tog oorweldig en alleen voel, (b) wanneer God nie antwoord nie, moet jy vashou aan die Woord wat Hy vir jou gegee het, (c) die pyn wat jy nou deurmaak, sal uiteindelik plek maak vir die vreugde wat God vir jou aan die ander kant voorberei het. Moet dus nie van die plan afwyk nie; dit is wat dissipels doen.

Die woord “dissipel” beteken leerling – iemand wat onderrig en gedissiplineer word. Dit beteken dat jy nie van die plan mag afwyk wanneer jy aangeval word nie. Dit leer jou hoe om op te tree wanneer jy nie lus voel daarvoor nie. Die vyand gaan gedurig probeer om die plan wat God vir jou lewe het in die wiele te ry, want daardie plan is ‘n beskermende heining rondom jou. Solank jy God se plan bly volg, kan die vyand niks doen om jou lewe te verwoes nie.
Wanneer jy dus voel asof jy nie meer krag het om verder aan te gaan nie, doen wat Jesus gedoen het – bid: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor,” (Luk. 23:46, NAV). Gee alles aan God oor! Kyk op en sê: “Here, ek vertrou op U om te doen wat ek nie kan doen nie. Lei my deur hierdie moeilike tyd. Ek gee my volkome aan U oor. My lewe, my toekoms en my alles is in u hande!”
© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top