Slagoffer?

Image

Hang jou identiteit af van ander se opinies oor jouself? Probeer jy iemand wees wie jy nie regtig is nie? Dan moet jy teen dié tyd doodmoeg wees, want dit verg ontsettend energie. As jy verslaaf is aan die goedkeuring van mense, moet jy dadelik ophou hiermee. Hoor net wat joernalis H. B. Swope skryf: “I cannot give you a formula for success, but I can give you a formula for failure: Try to please everybody!” Al wie se opinie regtig saak maak, is God s’n.

Doen ‘n slag die regte ding – wees tevrede met wie jy is voor God. Jy hoef jouself nie te bewys voor Hom nie. Behalwe as jy daardie leuen glo wat vele kerklikes goedsmoeds verkondig, dat God ook meer van jou hou as jy meer vir Hom begin doen, en omgekeerd! Dan gaan nie eens jou godsdiens jou vry maak nie.

Die geheim vir hemelse vrede in jou eie lewe is so eenvoudig as wat kan kom: Leef elke dag in die nabyheid van jou Hemelse Vader. Weet dat Hy jou Rots en Beskermer is soos wat Psalm 91 jou leer. O ja, en hou dadelik op om ‘n slagoffer van ander se opinies te wees. Voor God hoef jy nie heeltyd te presteer om sy guns te probeer wen nie. Niks wat jy ooit gedoen het; tans doen of ooit in die toekoms gaan doen kan maak dat Hy jou minder of meer liefhet nie, soos wat Philip Yancey skryf. Die Here het jou in elk geval lief as Jesus die Here van jou lewe is. Glo dit en wees vry.

Stephan Joubert (www.ekerk.co.za)

 

Scroll to Top