Ons plaaslike radiostasie maak die aankondiging. “Pasop mense, hael is oppad”. Soos meerkatte wat hulle gate soek wanneer ‘n roofvoël op hulle afpyl, is almal op ‘n missie uit om uit die groot gevaar te bly en om skuiling te soek. Almal reageer op hierdie komende groot gevaar.
Hael val op ons grasperk en ek kan myself nie keer om met ‘n sambreel uit te glip om ‘n paar korreltjies te gaan oppik en te eet nie (hulle sê dis nie gesond nie—ek weet, maar hierdie was lekker sag…)
Ons word as Christene deur die Woord van God ook aangespoor en gemaan dat daar eendag ook ‘n gebeurtenis aan’t kom is. Die wederkoms van die Jesus Christus. ‘n Heugelike dag vir Sy kinders. ‘n Hartverskeurende dag vir die ander. Kom ek en jy doen twee dinge vanoggend. Eerstens doen ons gou ‘n selfondersoek—is ons nog oppad? Tweedens, kom ons maak ander honger na Jesus deur ons optrede, en in die proses laai ons ’n klompie op die bus, Die Hemelse Bus!
Die radio knetter weer. “Ons verneem die hael is oppad na Brandfort”…hey, kyk hoe hol die meerkatte alweer!