Dit gebeur elke dag. Dalk in ‘n huis wat vroeër vol vreugde was: Onrealistiese verwagtings, ontrouheid en gebroke beloftes is besig om die droom van lewenslange liefde en vertroue te verpletter. Gelukkig is God die Geneser van gebroke verhoudings en geskokte vertroue. Wanneer ‘n geliefde seergekry het:
(1) Gee tyd. Genesing is ‘n proses, nie ‘n gebeurtenis nie. Die hart se wonde genees stadig. Miskien dink jy: “Maar ek het al soveel keer om verskoning gevra. Hoe lank gaan dit vat voordat hy my weer vertrou?” Dit vat so lank as wat nodig is! As jy eis dat die ander persoon volgens jou skedule gesond moet word, gaan die proses net langer vat. “Maar as hy my werklik vergewe het, sou hy nie heeltyd ou koeie uit die sloot uitgrawe nie.” Dis nie waar nie. Wanneer jou geliefde daaroor praat sonder dat jy ontsteld word, sal die wond vinniger genees.
(2) Moenie verwag dat dinge van nou af normaal sal kan voortgaan nie. Dit sal nie – en dit is normaal! Het jy al opgelet hoe jy outomaties ‘n wond probeer beskerm teen stampe en stote? Dis ‘n natuurlike, instinktiewe reaksie. Die feit is dat die een wat die pyn veroorsaak het dalk gereed kan wees om gewoon aan te gaan met die lewe, maar die seergemaakte voel te weerloos om “gewoon” aan te gaan. Deur jou verwagtings bietjie te verlaag en aan hom spasie te gee, kan jy die genesingsproses versnel en verbeter.
(3) Onthou dat mense nie almal ewe lank vat om te genees nie. God sê: “(Daar is) ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag . ‘n tyd om te omhels, ‘n tyd om weg te bly van omhelsing af,” (Pred. 3:4-5, NAV).
Wees sensitief. Leer by God geduld en begin groei terwyl jy jou geliefde kans gee om te genees.