Erken jou leermeesters!

following1606

following1606Jy kan jou hele lewe op enige plek bly, saam met enigiemand, en enigiets doen; tot jy op ‘n dag iemand ontmoet en besef dat jou lot met daardie persoon verbind is. Dit is wat Elisa genoop het om sy plaas te verlaat en Elia as sy handlanger te volg. Dis ook waarom Timoteus tyd saam met Paulus gebly het; ‘n ou man wat binnekort tereggestel sou word. Timoteus het gevoel dat daar in Paulus iets was wat hóm geraak het en dat hy sonder Paulus nie sy lewensdoelwitte sou kon bereik nie. Rut wou by haar skoonma Naomi bly.

Luister: ‘”…want waar u gaan, sal ek gaan …”‘ Dit het aan Rut geen saak gemaak dat Naomi ‘n ander nasionaliteit was, of veel ouer nie. Daar was ongetwyfeld ook tye wat hulle glad nie verwant gevoel het nie. Wanneer God jou bevoegdhede en jou volwassenheid wil ontwikkel, stuur hy dikwels mense in jou lewe wat ánders is. Naomi was Rut se leermeesteres in ‘n vreemde wêreld, sy was haar gids om die slaggate van die wêreld te ontduik. Naomi het Rut se agtergrond begryp; dís belangrik want ons is almal produkte van ons verlede. Sy het ook geweet waar Rut se toekoms gelê het; Rut moes net die moed en die nederigheid hê om te volg.

God gee voortdurend nuwe uitdagings aan mense. As jy vir diens wil aanmeld, moet jy diegene wat Hy in jou lewe stuur om jou voor te berei, herken. Of hulle jou nou kom troos, raad gee, reghelp of uitdaag, onthou dié woorde van Jesus ‘”…wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My…”‘ (Johannes 13:20 NLV).

Bron : Radiokansel

Scroll to Top