Die woorde “ek is jammer” is dikwels woorde wat maklik met ander gedeel word, maar soms twyfel ‘n mens in die opregtheid daarvan. Die wereld en in die besonder ek en jy het ‘n aangebore voorgevoel vir regverdigheid. Ons streef daarna om mense regverdig te behandel. Die woord regverdigheid het egter weer sy eie konteks en betekenis vir elke persoon. Tog, is ons almal opsoek na menswaardige hantering en ons wil graag ons lewe vul met mense wat bereid is om die tweede myl met ons te stap.
In die proses motiveer ons ander en onsself om ons gedrag voortdurend te beoordeel en verskoning te maak waar ons dink en ervaar dat ons iemand anders met ons woorde en optrede benadeel het. Hier speel die woorde “ek is jammer” ‘n besondere rol en dit maak mense en verhoudings gesond as hulle die inhoud van die woorde ter harte neem. ‘n Ware verskoning bring dikwels heling, maar dit moet gepaard gaan met ‘n positiewe optrede. Dit beteken dat die woordjie “ja, maar” nie gebruik word na die verskoning nie. Hierdie verskoning moet ook gepaard gaan met ‘n eienaarskap en aanvaarding van jou aandeeel in die gebroke verhouding. ‘n Opregte verskoning verander dikwels gesindhede. Die verhouding het wel seergekry, maar net die woorde “ek is jammer” bring dikwels ‘n meer gemaklike en op die lange duur, ‘n gesonde verhouding. Ek het net weer besef dat dit min woorde is, maar juis hierdie woorde kan berge skuif!
Stephan is predikant in die Klipkerk (Bloemfontein-Noord) en het gespesialiseer in Pastorale terapie