
Mense wag soms net vir iemand om iets te sê wat hulle te bang is om te sê, sodat hulle die kans kan aangryp om die vuur te stook! Moet jy nie so ‘n persoon wees nie. Blus eerder die vlammetjie voordat iemand dit kan aanblaas. Leer om eerder ‘n wag voor jou mond te plaas. Jou tong kan jou uit meer seëninge práát as wat jy kan tel!
Let op Dawid se reaksie wanneer hy in Saul se paleis aankom. Koning Saul is nie alleen deur ‘n bose gees gepla nie, maar hy sou ook sý plek in sy eie paleis verloor; sy reeds gesalfde opvolger was al voor die deur. Dawid was egter nie onnosel nie. Hy móés gewéét het wat sou gebeur, maar hy het sy mond gehou.
‘…stort… [jou] klagtes uit voor Hom en vertel Hom van…[jou] kwellinge’… (Psalm 142:2 NLV). Vertel dit aan Jesus! Is dit soms moeilik? Ja! Maar om dit nogtans te doen, bring beloning. Moet nooit deel wees van die groep ontevrede klaers nie. Spring in en ontlont die situasie. Jou gesprekke moet met wellewendheid deurspek wees. Praat positief! God is steeds op Sy troon en Hy het ‘n plan.
Jy kan met ‘n paar woorde vele gesindhede verander!
Bron : Radiokansel (Inhoud aangepas)


