
Susan Howatch vertel in Glittering Images van ‘n leraar wat sy lewe daaraan toegewy het om altyd vroom, wys, liefdevol en charismaties te lyk. Intussen het sy siel gekwyn, want niemand het hom geken nie. ‘Hulle ontmoet nooit die man wat ek wegsteek nie. Hulle ontmoet net die man wat ek uitstal. Ek noem hom die skitterende beeld, want hy lyk so goed in die spieël. Maar agter hom …is die woedende vreemdeling wat in die spieël verskyn wanneer die skitterende beeld dros.’ Sy bediening was sy trofee – en ook sy tronk. Daar is egter ‘n ander tipe trofee wat mens kan versamel – die regte soort. Jy hoef ook niemand die loef af te steek om een te kry nie.
Paulus het aan die kerk in Philippi geskryf dat sy vorige skatte – sy godsdienstige prestasies – nou vir hom ‘gemors’ is. Hy was besig om ‘n ander tipe kroon te versamel: ‘…wie sal ons vooruitsig of blydskap of erekrans wees, as dit nie julle is nie?’ (1 Tessalonisense 2:19 NLV). Vir Paulus was die uitnemendste trofee nie sy persoonlike prestasies as outeur of kerkbouer nie. Dit was die vreugde om ‘n wenner, ‘n dissipel te wees en om in die lewens van ander te belê.
Bron : Radiokansel (Inhoud aangepas)


