Daar sal goed van kom!

Josefina1407

Josefina1407Voor die Tweede Wêreldoorlog was Josefina Guerrero bekend en geliefd in Manila. Sy was jonk, mooi en getroud met ‘n welvarende mediese student. Maar in 1941 is sy gediagnoseer met melaatsheid. Sy het met behandeling begin, maar nadat Japan die Fillipyne binnegeval het, is al die leprosegestigte gesluit en kon sy nie met haar behandeling voortgaan nie. Ten spyte hiervan het sy die ondergrondse bewegings bygestaan en voedsel, klere, medisyne en boodskappe na krygsgevangenes gesmokkel. Sy het baie gevaarlike take onderneem sonder ‘n enkele gedagte aan haar eie veiligheid, en so baie lewens gered. Die Amerikaanse regering het haar dapperheid met die Medalje van Vryheid erken. Wonderbaarlik genoeg is sy nooit gevang nie, grootliks omdat die Japanese soldate so vir haar gegril het. Wanneer hulle haar in die strate gestop het, het hulle haar nie lank opgehou nie want hulle het haar sere en verbande herken as die simptome van gevorderde melaatsheid.

George Mueller het gesê, “Uit ‘n duisend ontberings is dit nie net vyfhonderd wat vir goed uitwerk nie, maar nege honderd nege-en-negentig – plus een!” Die skrifgedeelte “God het die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is” (Gen 50:20 NLV) beteken dat geen siekte, ramp of vertraging Hom kan keer om iets goed daarvan te maak nie. As jy verstaan dat God jou verlede vergeef het, jou hede ken en jou toekoms beplan het, kan jy leef in die wete dat niks met jou kan gebeur wat buite die bereik van Sy genade en verlossing is nie!

Kopiereg 2009 Radiokansel

Scroll to Top