Totale toevertroue aan Jesus

navigation0808‘n Hele nuwe wêreld het vir mense oopgegaan toe hulle, met behulp van die sterre as navigasie-middel, oseane kon oorsteek. ‘n Algemene gesegde was, ‘Hy wat die kompas se slaaf is, geniet die vryheid van die oop see’. As jy jou totaal aan Christus toevertrou, word Hy jou lewenskompas. Raadpleeg Hom met elke tree wat jy gee. Laat Hy jou koers bepaal en Hy sal jou na plekke van vryheid en vervulling stuur waarvan jy nooit kon droom nie. Verklaar soos Paulus, ‘Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my.’ (Galasiërs 2:20 NLV).

Die beroemde Italiaanse dirigent, Toscanini, was die leier van die Philadelphiese Simfonieorkes tydens ‘n uitvoering van Beethoven se Negende Simfonie, ‘n uiters moeilike stuk om te dirigeer. Die musiek was só aangrypend dat die gehoor die musici vir tien minute lank staande toegejuig het. Toscanini en die orkeslede het weer en weer gebuig. Die toejuiging het voortgeduur. Uiteindelik het Toscanini sy rug op die gehoor gedraai en aan die orkes gesê, ‘Dames en here, ek is niks, julle is niks, Beethoven is alles!’ CS Lewis het geskryf, ‘Om enigiets buite jouself te bewonder en lief te hê, is om een tree weg van volkome geestelike ondergang te gee; tog, dit sal ons nie baat nie solank ons enigiets meer liefhet en bewonder as wat ons God liefhet en bewonder.’ Dus, kniel vandag aan Jesus se voete en sê, ‘Ek is niks; U is alles. Hier is my gawes, my hulpbronne en my drome. Ek lê hulle aan U voete. Ek gee alles aan U oor, ek hou niks terug nie.’

Bron : Radiokansel

Scroll to Top