Jare gelede toe mense nog dikwels met die trein gereis het, het ‘n besigheidsman op pad na ‘n belangrike vergadering vir die portier gevra om seker te maak dat hy 05:00 die oggend van die trein afklim. Dink ‘n bietjie hoe hy moes voel toe hy 09:00 die volgende oggend wakker word, kilometers weg van sy bestemming! Hy het die portier woedend bestorm en nie doekies omgedraai om die man te vertel presies hoe hy voel nie. “Daardie man gaan ‘n aar bars van woede,” het ‘n passasier wat die hele petalje beskou het, opgemerk. “As u miskien dink dat hy woedend is,” het die portier gesê, “moes u die man gesien het wat ek vanoggend 05:00 van die trein afgesit het!” Jy glimlag miskien, maar Dr. James Comer van die Yale Mediese Skool sê die volgende: “Ons voel asof die wêreld te klein word, asof daar te veel mense rondom ons is en asof ons te nagekom word. Ons voel magteloos oor ons probleme en ons wil ontplof weens ons frustrasie.”
Paulus sê: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie,” (Ef. 4:26, NAV). Beteken dit dat dit altyd verkeerd is om kwaad te word? Nee, Paulus maak die punt dat onregverdig gemikte kwaadheid ‘n deur vir die vyand oopmaak. Jesus het vir ons gewys dat daar ‘n tyd en plek is vir regverdige kwaadheid oor ongeregtigheid en uitbuiting. Ons word dikwels kwaad omdat ons dink dat mense ons nie waardeer nie, omdat ons dink dat hulle ons goedheid misbruik, of omdat ons dink dat hulle nie aan ons dit gee wat ons verdien nie.
Paulus skryf weereens: “Moet nooit . woedend word nie . vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het,” (Ef. 4:31-32, NAV). Maar selfs die beste raad in die wêreld is niks werd as jy nie iets daarmee doen nie. As jy dus geneig is om ‘n kort humeur te hê, begin jou dag deur vir God te vra om jou te help om op so ‘n manier op te tree dat dit tot sy eer is.




