Speel bietjie tweede viool

reagan0504

reagan0504Frances Green was ‘n ou dame wat op haar pensioen gelewe het. Elke jaar het sy ‘n dollar na die Republikeinse Nasionale Konvensie gestuur. Op ‘n dag het sy ‘n uitnodiging ontvang om President Reagan te ontmoet. Sy het nie besef die RSVP moet ‘n aansienlike donasie insluit nie, en het elke sent wat sy gehad het, bymekaargeskraap vir ‘n treinrit van vier dae oor Amerika.

Sy het gesit en slaap, want sy kon nie ‘n slaapkompartement bekostig nie. Toe sy by die Withuis aankom en agterkom haar naam is nie op die gastelys nie, was haar hart gebreek. ‘n Ford Motor-bestuurslid wat toevallig haar storie gehoor het, het ‘n presidensiële assistent gekontak en toestemming gekry om Frances die volgende dag op ‘n toer van die Withuis te neem en haar aan die president voor te stel. Maar die volgende oggend was daar militêre oproer oorsee en die president was in belangrike vergaderings.

Toe Frances by die Withuis aankom, het die bestuurder haar rondgewys en met haar verby die presidentskantoor geloop in die hoop dat sy darem ‘n glimp van die president kon kry. Toe hulle verbyloop, kyk hy op, staan op en bulder: “Frances! Die simpel rekenaars het weer ‘n fout gemaak! As ek geweet het jy kom, sou ek uitgekom het om jou self te ontmoet!”

Die klein vroutjie van Kalifornië het daardie dag niks gehad om vir die president te gee nie, maar daar was iets wat hy haar kon gee, en hy het tyd gemaak daarvoor.

Paulus sê: “Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees.”

Bron : Radiokansel

Scroll to Top