Ons hoor deesdae min oor heiligheid. Wat beteken dit om ‘heilig’ te wees? Laat ons eers probeer om te verstaan wat dit nie beteken nie:
1) Dit isoleer jou nie van die wêreld nie, dit beskerm jou teen sy negatiewe invloede.
2) Dis nie ‘n telkaart om te bepaal wie naby God is en wie nie. Dis om in jou hart jou tekortkominge te ken en te bid: ‘Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God’ (Psalm 42:2 NV). Heilig beteken om spesiaal afgesonder te wees, soos in die heilige Nagmaal waar brood en wyn anders as in daaglikse gebruik tot eer van Christus se dood gebruik word. Of die huwelik, wanneer ‘n paartjie belowe om getrou aan mekaar te bly.
Chuck Swindoll skryf: ‘Toe ek as ‘n jong getroude seesoldaat agtduisend kilometer ver diens gedoen het, het ek geweet Cynthia bestaan. Ek kon haar briewe lees en somtyds haar stem oor die foon hoor, maar ek kon haar nie sien of aanraak nie. Daar was slegs die herinnering dat ons drie jaar tevore voor God en die predikant, wat ons getroud verklaar het, ons lewenslank eksklusief vir mekaar afgesonder het. Ons is in Junie 1955 getroud. Ondanks hoe lank gelede dit was, het ons by mekaar gestaan en toegewyd gebly aan die heilige ineenskakeling van ons lewens. Om met ‘n ander vrou intiem te verkeer, sou die heilige verbintenis verbreek. Die gedagte het my getrou aan haar gehou hoewel ons maande van mekaar verwyder was, en dit help steeds een-en-veertig jaar later!’
Bron Radiokansel