
Todd Beamer, ‘n 32-jarige sakeman, het met ‘n foon op die vliegtuig by Lisa Jefferson, ‘n Verizon Airfone-toesighouer uitgekom. Hy het haar gesê hy en ander passasiers gaan ‘n kaper probeer oorrompel. Beamer het haar gevra om die Onse Vader saam met hom te bid, en haar laat belowe om sy vrou, Lisa, te bel en haar te sê dat hy lief is vir haar en hulle twee klein seuntjies.
Nadat hy met Jefferson gepraat het, het Beamer gesê: “Jesus, help my.” Hy het Psalm 23 opgesê, en toe: “Gereed kêrels? Hier gaan ons!” Dit was Beamer se onvergeetlike laaste woorde voor hulle die kapers gepak het. Daar was gille, toe stilte.
Daardie dag het dapper burgers, totale vreemdelinge vir mekaar, saamgestaan om te probeer om die vliegtuig te red. United Vlug 93 het in ‘n groot landery in Shanksville, Pennsylvania, geval. Die 44 passasiers aan boord is almal dood. Van die vier gekaapte vliegtuie daardie oggend was hulle s’n die enigste een wat nie sy teiken getref het nie. Daardie helde het dapperheid op die hoogste vlak getoon. Wat jy ook al vandag moet doen, wees dapper, want “die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.”
Bron : Radiokansel



