Vertrou op God!

vertrou1603

vertrou1603Moeilike omstandighede aktiveer sommige mense, maar verlam ander. Dawid is ‘n voorbeeld: Samuel het hom as koning gesalf; hy het Goliat verslaan; hy was harpspeler en soldaat vir Saul; die soldate was lief vir hom en het liedere oor hom gesing. Toe het sy lewe skielik verander. Hy het sy werk verloor en sy huwelik het verbrokkel; sy mentor, Samuel, is dood; Jonathan, sy beste vriend, kon hom nie help nie, en Saul se soldate het hom agtervolg totdat hy skuiling in ‘n grot moes soek. Ons moet almal soms in grotte skuil! Dis waar jy beland wanneer jou aardse steunstelsel meegee. Dis nét daar waar jy belangrike dinge oor jouself kan leer. Dis dáár waar God jou meer soos Christus maak.

Daar waar jou grootste swakhede jou wys dat jy sink, stuur God Sý krag om jou te red. Toe Dawid gebid het, ‘U is my toevlug, buiten U het ek geen deel in die land van die lewendes nie’ het hy nie geweet van die kroon in sy toekoms nie, of dat hy nie as vlugteling sou sterf nie. Vir al wat hy geweet het, kon dit miskien nooit met hom beter gaan as om in die grot te skuil nie. Wanneer jy jou in ‘n situasie bevind wat jy nie kan regmaak of verander nie, waaruit jy nie kan ontsnap nie, moet jy op God vertrou! Vertrou op God! Vertrou op God! Jou sekuriteit sal altyd wankelbaar wees solank as wat dit net op jou sukses berus. Wanneer jy egter weet dat God saam met jou is, selfs in die grot, kan jy sterker daaruit kom.

Bron : Radiokansel

Scroll to Top