
Hierin lê ‘n belangrike les. As jy Christus aanvaar, verander Hy jou van die binnekant af buitentoe. Maar sekere ervarings in jou verlede kan jou geestelik gebonde hou, en bepaal hoe jy jouself sien. Alhoewel die Heilige Gees die aanvanklike werk doen, is transformasie ‘n proses waarmee ander jou moet help. Dit gebeur nie oornag nie; dit neem tyd.
Die Bybel sê: “… iemand wat aan Christus verbind is, is ‘n nuwe skepping.” (2 Korintiërs 5:17 NLV). Jy is besig om nuut te word! As Jesus jou red, is dit asof jy toegedraai in die grafdoeke van jou verlede – negatiewe invloede en denkpatrone, ‘n lae selfbeeld, ou gewoontes en afbrekende verhoudings – uit die graf kom. Dis hoekom God mense stuur om jou lief te hê, en te help om jou vry te maak en in jou potensiaal in te groei. Dis ook waarom jy ‘n intieme verhouding met God moet bou deur gebed en Bybelstudie. Sy Woord sal jou ‘n ware beeld gee van die manier waarop Hy jou sien.
Deur gebed leer jy Sy hart ken en begin jy jouself deur Sy oë sien. As dit gebeur, begin jy as ‘n verloste, vrygestelde en veranderde mens lewe.
Bron : Radio Kansel



